Google AdWords

Google AdWords
2017-05-04 hannes@supronet.co.za

Google AdWords

Die algemene term vir die soort aanlynbemarking wat ons hier bespreek, is soekgebaseerde advertensies. Die 800kg gorilla in hierdie mark is Google met hulle AdWords. Daar is al duisende artikels en miljoene woorde geskryf oor die gebruik van AdWords. In hierdie artikel probeer ons ‘n inleiding gee vir ons kliënte en ander wat moontlik gehoor het van AdWords maar nie weet hoe dit werk nie.

In kort kom dit daarop neer dat mens betaal om jou skakel (bv. webwerf) bo-aan die Google soekresultate te laat verskyn wanneer gekose soekwoorde gebruik word. Jy betaal net wanneer iemand wel op jou skakel (advertensie) klik. Dit is ‘n kortpad vir die baie meer komplekse “SEO” (search engine optimisation”) proses om jou webwerf bo-aan Google se soekresultate geplaas te kry.

Die uittreksel hieronder wys soekresultate vir “dentist centurion”.

 

Die eerste vier “resultate” is eintlik advertensies en kan uitgeken word aan die “AD”-ikoon. Die adverteerders betaal om hulle resltate te laat verskyn wanneer vir “centurion dentist” gesoek word.

Let op die volgende terminologie:

  • Advertensie: Verskyn heel bo aan (of onder) Google se soekresultate. Daar is ‘n groen ikoon (wat spesifiseer “ad”) gekoppel aan die advertensie. Die eerste 4 resultate in bogenoemde voorbeeld is betaalde advertensies.
  • Soekresultate: Dit is die soekresultate wat vertoon word na ‘n soektog op Google.
  • Klik: Verwys na ‘n suksesvolle klik op die advertensie en nie die woorde wat ingesleutel word wanneer ‘n soektog plaasvind op Google nie. ‘n Klik is suksesvol wanneer ‘n gebruiker verwys is na ‘n eindbestemming deur te klik op die advertensie. Die bestemming kan die besigheid se webwerf wees, ‘n spesiale landingsbladsy of enige ander bestemming op die web.
  • Begroting: Dit is die bedrag wat die adverteerder inbetaal in sy Google AdWords rekening en beskikbaar maak vir die advertensieveldtog. Wanneer die advertensieveldtog opgestel word, kan die totale begroting, die daaglikse begroting en die maksimumprys vir elke soekwoord of –frase gestel. Die adverteerder het dus ‘n groot mate van beheer oor hoeveel bestee word, teen watter (maksimum) tempo dit bestee kan word en wat vir bepaalde soekwoorde of –frases betaal word.

Die begroting vir Google AdWords word bepaal deur die besigheid en daar is nie ‘n vaste intekenfooi nie. Die rekeninghouer besluit self wanneer en hoeveel geld in die begroting inbetaal word.

Google AdWords is gebaseer op ‘n veilingstruktuur. Daar word gebie op sekere woorde en daarvolgens word ‘n prys toegeken aan die woorde.  Die koste per woord is nie vas nie en verander voortdurend.

Voorbeeld: Die woord “widget ” kan op een dag verkoop teen R5,00 per klik. Die volgende dag kan die woord meer gewild word en die prys styg na R5,50 per klik. Dit kan egter ook goedkoper word.

Indien twee mededingers (X en Y) die woord “widget” wil gebruik, sal die een (sê X) met die hoogste bod, se advertensie voorkeur kry en vertoon word. Wanneer X se begroting – hetsy daaglikse perk of totale begroting – uitgeput is, sal Y se advertensie verskyn.

Indien X ‘n maksimum prys van R5,00 per klik vir “widget” gestel het en die bodprys is meer as R5,00, sal X se advertensie glad nie verskyn nie. As die prys daal na onder R5,00 per klik, kan X se advertensie vertoon word.

‘n Groep woorde kan ook gebruik word en daar sal ‘n prys van toepassing wees op die groep woorde gesamentlik.

Voorbeeld: “green, widget” sal beskou word as as een element en ‘n prys hê vir die kombinasie.

Wanneer iemand op die advertensie klik, word die koste van die begroting afgetrek. Wanneer die begroting uitgeput is, sal die veldtog se advertensies nie meer vertoon word nie totdat daar weer ‘n inbetaling gemaak word.

Die volgende behoort oorweeg te word voor en tydens die opstel van ‘n Google Adwords veldtog:

  • Doel: Die doel van die veldtog is seker die enkele belangrikste aspek van die veldtog. As dit nie duidelik is wat jy wil bereik nie, gaan jy nie weet hoe jy gaan meet of jy dit wel bereik het nie en gaan die ontwerp en opstel van die veldtog rigtingloos wees. Ons beveel aan dat die doelwit gestel word in terme van ‘n werklike besigheidsresultaat. Vir meeste organisasies is die besigheidsdoelwitte finansieel van aard – soos verhoging in omset of wins. Dit kan egter ook gestel word in terme van ‘n subdoelwit – soos uitbreiding van die besigheid se kontakbasis – wat kan lei tot ‘n finansiële resultaat. Wees baie versigtig vir doelwitte wat moeilik met werklike besigheidsukses gekoppel kan word. Byvoorbeeld: Dit mag jou goed laat voel om die besoeke aan jou webwerf of “likes” op Facebook met 100% of 1 000% te verhoog maar as dit nie tot meer besigheid lei nie, mors jy geld.
  • Meet van sukses: Dit is baie belangrik om te meet watter sukses jy behaal met jou veldtog. Soos in die vorige punt genoem, is die ideaal om sukses te meet in terme van werklike besigheidsdoelwitte. Wat jy wil meet en hoe jy dit gaan meet, speel ‘n rol in die ontwerp en opstel van die veldtog, onder andere in die ontwikkeling en opstel van sekere tegniese aspekte en prosesse/stelsels om resultate te kan meet. Byvoorbeeld: As jou veldtog ten doel het om navrae vanaf potensiële kliënte te verhoog, moet jy ten minste ‘n basislyn hê (hoeveel navrae kry jy gemiddeld sonder die veldtog) en dan meet hoeveel navrae jy tydens of na die veldtog kry. Beter sou wees om te kan meet watter van die navrae is die direkte gevolg van die veldtog. Opsommend: Jy moet weet of jou veldtog suksesvol is. Jy moet dus ‘n stelsel hê om die resultate te kan meet en vergelyk met die koste. Die term “ROI” (opbrengs op belegging, “return on investment”) word baie in hierdie konteks gebruik.
  • Is AdWords die regte platform? AdWords kan veral gebruik word waar mens verwag dat mense gaan soek vir die diens of produk wat jy bied. Dit sluit waarskynlik meeste “gewone” produkte/dienste in. Dit sal egter onder andere nie goed werk vir die volgende gevalle nie:
    • Indien jy ‘n nuwe, unieke produk/diens verskaf waarvan mense nog nie bewus is nie, gaan AdWords nie goeie resultate lewer nie want mense gaan nie daarvoor soek nie. Gebruik dan eerder ‘n advertensiekanaal waarmee jy die nuwe produk/diens onder mense se aandag kan bring terwyl hulle eintlik iets anders doen.
    • Indien jy iets verkoop wat mense gewoonlik op die ingewing van die oomblik koop – dink aan die items wat kleinhandelaars in die ry by die kasregister vertoon – wil jy eerder ‘n platform gebruik waar jy die produk/diens onder mense se aandag bring en nie AdWords, waar dit van die kliënt afhang om die soektog te loods nie.
  • Soekwoorde/frases: Watter soekwoorde sal potensiële kliënte gebruik indien hulle na jou produk/diens soek?
    • Dit gaan nie net oor die naam, beskrywing, of eienskappe van die produk/diens nie maar ook oor die “probleem” wat dit vir die kliënt oplos. Mense gebruik al meer volsinne om te soek. As jy seep verkoop, kan jy die soekwoord “seep” kies maar ook “skoonmaak” of “Hoe maak ek xyz skoon?”
    • Google bied hulpmiddels waarmee jy kan sien wat die bodprys op bepaalde soekwoorde is en ook hoeveel keer daar vir sekere inligting gesoek word. Hierdie inligting kan gebruik word in die beplanning van die veldtog.
  • Teikenmark: Dit is altyd goed om te dink oor die teikenmark vir enige advertensieveldtog en ‘n Google AdWords veldtog is nie ‘n uitsondering nie. Die voordeel van AdWords en ander aanlynbemarkingskanale is dat dit marksegmenteringsvermoeë bied wat nie altyd so geredelik beskikbaar is in tradisionele media nie. AdWords bied ‘n verskeidenheid van demografiese dimensies vir die segmentering van jou mark en die rig van die veldtog op ‘n spesifieke segment. Dit sluit in:
    • Geografiese ligging
    • Taal
    • Geslag
    • Ouderdom
  • Landingsbladsy: Die advertensie kan opgestel word om die besoeker na jou webwerf se tuisbladsy, of enige ander bestaande bladsy, te neem. So ‘n benadering is moontlik goed genoeg vir algemene bewusmaking of wanneer ‘n bestaande bladsy perfek inpas by jou veldtog. Dit kan egter raadsaam wees om ‘n spesifieke landingsbladsy te skep waarheen AdWords besoekers geneem word. Die landingsbladsy se ihoud moet gefokus wes op die doel wat jy wil bereik. As jy intekenare op jou nuusbrief wil werf, kan die landingsbladsy die fokus plaas op die intekenvorm. As jy ‘n produk bemark en daar is ‘n spesiale aanbod wat deel is van die bemarkingsveldtog, dan kan die landingsbladsy net daardie produk wys en die besoeker lei om dit daar en dan te koop.
  • Skedulering: Wanneer moet die veldtog begin en eindig of is dit ‘n deurlopende veldtog? Dalk is dit seisoengebonde: Bemark jou bloemistewinkel se spesiale aanbod op rooi rose in die week tot met Valentynsdag. AdWords bied ook weeklikse en daaglikse skedulering indien jy jou advertensie net op seker dae van die week en/of op seker tye van die dag wil laat verskyn.
  • Platform/Kanaal: AdWords advertensies kan vertoon word op Google se soekresultate (“search network”) en/of Google se netwerk van medewerkers (“display network”).
  • Toestel: AdWords advertensies kan gerig word op algemene soek of soektogte op spesieke toestelle soos PCs of selfone.
  • Begroting: Die aspek van begroting is reeds aangeraak. Uiteraard is die begroting vir AdWords ‘n komponent van jou totale begroting vir bemarking. Die begroting vir die spesifieke veldtog sal ook afhang van onder andere die doel, die teikenmark, en die skedulering. Binne die begroting kan afsonderlike perke opgestel word vir daaglikse begroting en maksimum prys per soekwoord/frase. Die prys wat jy bereid is om te betaal vir ‘n klik op ‘n soekfrase behoort verband te hou met die gemiddelde waarde van die besigheid wat jy daaruit kan verdien en die waarskynlikheid dat ‘n klik tot besigheid sal lei (omsettingskoers). Hoe groter die waarde van die potensiële transaksie en hoe hoër die waarskynlikheid van ‘n transaksie indien iemand op jou landingsbladsy beland, hoe hoër prys sou jy per klik kon betaal. Uiteindelik hou dit weer verband met die opbrengs op belegging.

Hierdie is net ‘n paar van die aspekte om in ag te neem. Elkeen is meer uitgebreid en kompleks as wat in hierdie inleiding beskryf word. Terwyl AdWords baie keuses en geriewe verskaf om jou veldtog op te stel, te monitor en te bestuur, is dit ook baie kompleks en is dit maklik om foute te maak en geld op ondoeltreffende veldtogte te bestee.

SuproNet kan jou raad gee oor die gebruik van AdWords  en veldtogte saam met jou en namens jou opstel en bestuur. Kontak ons vir ‘n bespreking van jou vrae en behoefte.

Contact us for more information or queries.

CONTACT US

View more posts.

BACK TO BLOG