|
Die Centurion Hospitium het ontstaan nadat lede van die gemeenskap en die (destydse) Stadsraad van Centurion die behoefte in Centurion raakgesien het vir die oprig van 'n gebou waar terminale siek pasiënte opgeneem kan word om in 'n
binnepasiënte-eenheid versorg te kan word. Die gebou is opgerig in Cliftonlaan, Lyttelton en is slegs 'n hanetreetjie vanaf die Unitas Hospitaal.
 |
Die visie van die vereniging is om holistiese versorging beskikbaar te stel aan terminale pasiënte waarvoor geen kuratiewe behandeling beskikbaar is nie. Versorging is gemik op ondersteuning en deernisvolle versorging van die persone
deur palliatiewe verpleegsorg wat gerig is op pyn- en simtoombeheer. Dit is elke persoon se reg om met waardigheid te sterf in 'n omgewing waar mense omgee.
Om hierdie visie uit te leef het die Centurion Hospitium 'n Artikel 21 Maatskappy (nie-winsgewende maatskappy) gestig sodat 'n versorgingseenheid gebou kon word
waar enige terminale siek pasiënt versorg kan word sonder enige diskriminasie. Die bestuur van die maatskappy bestaan uit 'n uitvoerende komitee van 12 lede wat uit die
gemeenskap verkies word en 'n bestuurskomitee wat die dag tot dag bestuur behartig.
Die diens is nie gerig op die versorging van kroniese siektetoestande as sodanig nie
maar wel op korttermynversorging in die laaste lewensfase van 'n persoon wat aan 'n terminale siekte ly.
Dienste
Dagsorg:
Die dagsorgdiens word tans uitgebrei na die sentum self. Dit beteken dat gesinne in die gemeenskap hulle gesinslid in die oggende voor 07:00 uur na die hospitium kan
bring waar hierdie persoon vir die dag versorg kan word terwyl hulle gaan werk of inkopies doen. Die persoon word versorg en kan dan weer saans na 17:00 gehaal word.
Verskeie ondersteuningsgroepe vorm deel van die dagsorgdienste. So byvoorbeeld kom 'n groep vrywillige werkers van die hospitium elke eerste Woensdag van die maand bymekaar. KANSA se ondersteuningsgroep vir pasiënte en helpers kom elke
tweede Donderdag van die maand bymekaar en 'n omgeegroep vir persone wat 'n geliefde aan die dood afgestaan het, is ook in die vooruitsig.
Wondversorgingsdienste word ook by die sentrum verskaf. Afsprake kan telefonies
gemaak word.
Tuisversorgingsdienste:
Professionele verpleegkundiges wat in palliatiewe verpleegsorg opgelei is, verskaf
tuisversorging op 'n daaglikse basis aan terminale pasiënte. Daar word ook gesteun op vrywillige hulp vanuit die gemeenskap wat help met die versorging en ondersteuning van die pasiënte en hulle families. Take wat verrig word deur die
vrywillge helpers sluit in voorlees van boeke, inkopies doen en hulp met sanitêre sorg.
Binnepasiënte-eenheid:
Die eenheid se geboue is pas voltooi. Daar word gewerk om die eenheid te meubileer en personeel aan te stel. Pasiënte in 'n gevordere stadium van hul siekte en wat nie meer tuis versorg kan word nie, sal hier opgeneem en versorg word.
Berading van Bedroefdes:
Die berading van bedroefdes is 'n belangrike diens wat verskaf gaan word ten einde 'n
holistiese diens aan te bied. Die diens is gerig daarop om ondersteuning aan pasiënte te verleen nadat hulle verneem het dat hulle aan 'n terminale siekte ly, tydens
hulle verwerking daarvan en tot in die laaste fase van die siekte. Die familie en naasbestaandes van die pasiënt word ook in die ondersteuningsproses betrek sodat
hulle die afsterwe van 'n familielid kan verwerk. Die hospitium beskou die rouproses as 'n normale deel van die verwerking van verlies.
"Bargain Centre":
Hierdie winkeltjie is elke Vrydag vanaf 08:00 tot 16:00 en Saterdae vanaf 08:00 tot 12:00 oop vir die publiek om te kom snuffel en iets te koop. Hier word kombuisware,
boeke, klere en meubels verkoop wat deur die publiek geskenk word. Alle fondse wat so gegenereer word, word gebruik vir die bedryf van die Centurion Hospitium.
Fondse, Hulp en Ondersteuning
Die Centurion Hospitium kan nie uit die opbrengs van die "Bargain Centre" alleen oorleef nie.
Twee keer per jaar word daar fondse ingesamel deur middel van funksies naamlik die Weskus-Snoekbraai in April/Mei en die Wildsbraai in Augustus.
Die Centurion Hospitium steun swaar op die gemeenskap vir finansiële bydraes,
vrywillige hulp en skenkings.
Navrae en Hulp
Indien u enige verdere navrae het, of betrokke wil raak is u welkom om die volgende
persone te skakel vir verdere inligting:
|